OB #4 (Hoe om in die Gees te Wandel)
Printer-friendly version
Hierdie is ‘n verwerking van die Oordraagbare begrip #4 ‘Hoe om in die Gees te Wandel‘ soos geskryf deur Dr. Bill Bright.
© Campus Crusade for Christ. Alle Regte Voorbehou.
OORDRAAGBARE BEGRIP #
HOE OM IN DIE GEES TE WANDEL
Ongeduld
Kallie leun met ‘n lang, woedende geblaas nog ‘n keer op die toeter. Hy wag alreeds 10 minute. Waar is hulle?
Marie wis hoe senuagtig hy omtrent hierdie oggend was, sy eerste Sondag waar hy die Graad vyf-seuns moes onderrig. Hy het haar en die kinders immers gevra om betyds te wees. Uiteindelik is sy daar, maak die deur oop en help hulle driejarige kind die motor in.
“Ek kan dit nie glo nie,” skreeu Kallie wanneer die driejaar-oue Susan op die agterste sitplek ineenkrimp. "Ek het mos gesê ek moet vroeg daar wees. Ek moet stoele regskuif en materiaal bymekaar kry.”
Marie wend ‘n flouerige poging aan om verskoning te maak toe hulle uit die oprit beweeg en – te vinnig – pad vat kerk toe. Kallie raas voort sonder om ag te slaan op sy familie se gevoelens . . . totdat iets diep binne hom sê: “Jy is in ‘n gawe toestand om omtrent God se liefde en geduld te onderrig, is jy nie?” Hy het die stem onmiddellik herken. Dit het saggies te midde van sy woede gepraat, en soos gewoonlik, reguit na die hart van die probleem gedryf. Hy kon nie teëstribbel nie, hy het geweet die stem was reg.
Kallie loer na sy vrou. Slegs sekondes tevore was hy nog so kwaad dat hy haar as die vyand beskou het. Wat hy nou gesien het was die vrou wat hy liefhet, terwyl sy treurig deur die vensters na buite staar. Hy besef dat hy haar diep seergemaak het met sy
uitbarsting.
“Liefie,” sê hy terwyl hy na haar hand reik, “Ek skuld jou ‘n verskoning.” Die res van die afstand kerk toe het hulle saggies gesels, seergemaakte gevoelens herstel, reggemaak wat verkeerd was en hulle kommunikasie herstel.
Kallie het, soos baie van ons, teruggegly na die gewoontes van die vleeslike mens. Hy was so verdiep in die probleem van die oomblik dat hy vergeet het wie op die troon van sy lewe moes wees. Dis amper ‘n refleks om terug te keer na die vleeslike ek-sal-dit-self-doen handelswyse wanneer ons vergeet van die beloftes in God se Woord (1 Joh. 1:9) en om die voorsiening daarvan vir ons daaglikse lewe te glo en toe te eien. Ons vergeet (1 Kor. 10:13) “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou, Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee sodat julle dit kan weerstaan.”
Wat doen jy met die sonde
Paulus sê in (Rom. 14:23) ”Wat ookal nie uit die geloof is nie, is sonde.” Dit is nie die sonde self wat ons na die vleeslike toestand laat terugkeer nie; dit is wat ons besluit om met die sonde te doen. As ons ophou om geestelik asem te haal en die sonde toelaat om skeiding tussen ons en God te bring, is die gevolge van die lei van ‘n vleeslike lewe, al wat oorbly.
Aan die anderkant, wanneer ons kies om geestelik asem te haal – ons sondes oomblik vir oomblik te bely en sy vergifnis te aanvaar – hou ons aan om Hom op die troon te hou en ‘n lewe van oorwinning te lei.
Terwyl Kallie daardie Sondagoggend saam met sy familie kerk toe gery het, het hy uitgeasem toe hy sy sonde aan God en sy gesin bely het. Hy het ‘n vars hervulling van die Heilige Gees ingeasem toe hy sy hart weer vir die Here se herstelkrag oopgemaak het en dinge saam met sy vrou reggemaak het. Toe hy later die oggend voor daardie graad vyf seuns gestaan het, was hy gereed om met oortuiging van God se onvoorwaardelike liefde vir ons, as Sy verloste kinders te praat.
Die seuns kon daardie oggend ‘n soort nederigheid en eerlikheid in hulle onderwyser waarneem. Dit het hulle na die Here aangetrek. Drie van hulle het voor die klas verby was, hulle harte vir die Here gegee.
Die Here bring eer aan Homself deur die toegewyde lewe van sy kinders.
Moenie dat Sonde in jou Lewe Opbou nie
Namate jy geestelik uitasem en inasem sal jy ‘n verandering in jou lewe waarneem.
Jy sal geestelik fiks en bewus van ‘n nuwe vryheid en krag in jou getuienislewering word. Wanneer sonde inkom, moenie dat dit jou afskrik nie. Maak bloot kort-kort reg met God en moenie dat sonde in jou lewe opbou nie.
Johannes skryf in (1Johannes 2:1) “...my liewe kinders, dat julle nooit moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige as ons voorspraak by die Vader.”
Wanneer jou verhouding met die Heilige Gees groei, sal jy vind dit is beide krities en progressief:
Dit is (i) krities in die mate wat jy voortgaan om sy krag oomblik vir oomblik toe te pas. Jy ook sal leer hoe om wat Hy jou bied, in die geloof aan te wend. Jou verhouding is (ii) progressief wanneer jy in die geloof groei en in jou geesbeheerde wandel volwasse word. Dit is dikwels maklik om ‘n gelowige wat vir baie jare in die Gees gelewe het en nog leef, te identifiseer, want die vrugte van die Gees is in hom.
Die konsep van geestelike asemhaling is eenvoudig, maar dit moet in die breër konteks begryp word.
Vier dinge waarop ons in ons Christelike wandel moet let:
- Om seker te wees jy is met die Gees vervul
- Om voorbereid wees vir geestelike konflik
- Om ons regte as kinders van God te ken
- Om in die geloof te lewe
1) Wees Geesvervuld
Om in die Gees te wandel, moet ons eers seker wees dat ons met die Gees vervul is. In (Efesiers 5:18) lees ons: “Moenie julle aan drank te buite gaan nie, daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die gees julle vervul.”
Om met die Gees vervul te wees beteken om as ‘n lewenswyse deur Hom gerig en versterk te word. Jesus waarsku: “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.” (Matt. 6:24)
Daar is in elke hart ‘n troon - ons kontrole-sentrum – en daar is vir slegs een regerende mag plek op die troon. Die stryd binne ons is oor die kontrole van daardie troon, en die Christen wat deur self regeer word, het die Heilige Gees van daardie troon af verwyder.
Dit is noodsaaklik dat ons God se bevel en sy belofte sal onthou:
(i) Hy beveel ons, “Wees vervul!”;
(ii) Hy beloof ons dat as ons enigiets volgens Sy wil vra, Hy sal hoor en antwoord. (1Joh. 5:14, 15)
Omdat Hy ons beveel om vervul te wees, kan ons dus seker wees dat ons vervul SAL word. Daarom kan ons verwag om gevul en versterk te word wanneer ons inniglik begeer om deur Hom beheer en met sy Gees vervul te word. Dan moet ons net voortgaan om geestelik asem te haal, uitasem deur te bely, en inasem wanneer ons sy vergifnis en krag in ons lewens in die geloof toeeien.
Wat van emosies in die ondervinding van die gelowige?
Gevoelens voeg kleur en opwinding by, en is ‘n waardevolle deel van die lewe, maar hulle is baie wispelteurig en verander soos die weer. As Christene leef ons in die geloof terwyl ons God se betroubaarheid en die beloftes van sy Woord vertrou. Wanneer ons op gevoelens as bevestiging van sy werking in ons lewens staatmaak, plaas ons onsself in ‘n gevaarlike posisie en sal ons byna altyd teleurgestel word.
Laat ons die proses van God te glo en die Christelike lewe te lei vergelyk met ‘n stoomtrein:
- Die krag is die enjin (FEIT),
- die brandstof is in die kolewa (GELOOF)
- en agteraan is die kondukteurswa (GEVOEL).
Geen drywer sou die trein aan die kondukteurswa koppel en dan verwag dat die trein daardeur getrek sou word nie. Die enjin – feit – gee aan die Christendom sy krag, en dikwels volg gevoel op natuurlike wyse, as ‘n bonus. Maar as hulle nie daar is nie beteken dit nie dat die feite verander het nie.
Weier om emosionele ervarings as bewys van die Heilige Gees se inwoning te soek. As jy ‘n opregte honger en dors na God se regverdigheid het en jy het jou sondes bely, jouself aan Sy beheer oorgegee, en Hom vertrou om jou te vul, kan jy seker wees dat jy met die Heilige Gees vervul is. God is getrou aan Sy beloftes.
(Johannes 14:21) herinner ons: “Wie My opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hom sal die Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.” Dit sê nie “hy wat liefde vir My voel nie” maar “hy wat My gebooie hou“.
Gevoelens volg gewoonlik die besluite en aktiwiteite van ons lewens, maar ons moet nie daarna soek nie of op hulle staatmaak om feite vir ons te bevestig nie. Om vir ‘n emosionele ervaring te soek is ‘n ontkenning van die konsep van geloof en wat ookal nie in die geloof is nie is sonde. (Heb. 11:6)
Wanneer ons God glo, gee Hy eer aan ons geloof en dan kan ons die lewe met die sekerheid lewe dat Hy ons oomblik vir oomblik vul.
2) Voorbereid vir Geestelike Konflik
Tweedens, soos alle goeie soldate wat op oorlogvoering voorbereid is, moet ons ook op geestelike oorlogvoering voorbereid wees. Ons wat geestelik lewendig geword en ons aan Hom verbind het, moet teenstand van die vyand verwag en een van sy skerpste wapens is skuldgevoelens. Hy sal steek en prik en karring wanneer ons dit die minste verwag, met steekangels wat jeuk en later swel. Hy sal ons van sonde beskuldig waarvoor ons al lankal God se vergifnis ontvang en aanvaar het, en hy sal alles in sy vermoë doen om ons vertroue in Christus te vernietig. Hy weet’n twyfelagtige soldaat is waardeloos in die stryd.
Die goeie nuus is dat ons ‘n keuse het:
- Moenie toelaat dat Satan pyle in jou teiken sink nie. ‘n Bewegende teiken is moeilik om raak te skiet.
- Weier om terug te trek in onnodige retrospeksie (een van Satan se gewilde sette) dan sal jy nie in areas rondkrap wat alreeds vergewe en deur die Redder vergeet is nie.
- Bely aan God wat die Heilige Gees op jou hart plaas as iets wat nog verwydering tussen Hom en jou veroorsaak.
Ons word in (1 Petrus 5:7, 8) vertel om God toe te laat om al ons vrese en kommer te neem, want Hy dink altyd aan ons en sien alles wat ons doen raak. Ons moet versigtig wees – wakker en bedag op enige aanvalle van die duiwel, die groot vyand wat op die aarde rondloop soos ‘n slinkse leeu wat op soek is na sy volgende prooi om te verslind. Hy is slu en genadeloos en val sy prooi soms op ‘n subtiele en dan weer op ’n sigbare manier aan terwyl hy probeer om te oorwin en te vernietig. Maar ons kan vol vertroue wees dat “groter is Hy wat in jou is as hy wat in die wêreld is.” (1Johannes 4:4)
Tweeduisend jaar gelede is Satan verslaan toe Jesus op die kruis vir ons sondes gesterf het. Die oorwinning is ons s’n, nou! Ons kyk nie vorentoe vir oorwinning nie maar terugwaarts, na die kruis waar die vyand eens en vir altyd verslaan is. Ons hoef Satan, solank ons in die Gees wandel, nie meer te vrees nie want ons maak staat op Christus vir ons krag en ons voorsiening.
3) Ken jou Regte as Kind van God
Die derde area waarvan ons bewus moet wees indien ons voortdurend in die Gees wil wandel is die regte wat ons as kinders van God het (Johannes 1:12).
Ons het ‘n onuitputlike bron van krag, liefde, vergifnis en genade van ons Vader geërf. Dit is ons verantwoordelikheid om te leer hoe om voortdurend uit daardie voorraad te put.
Die bron wat ons regte ten opsigte van ons erfenis verklaar is natuurlik die Bybel. As gelowiges moet ons tyd daaraan wy om dit te lees, bestudeer, memoriseer en bepeins sodat ons op ‘n wyse kan leef waarin God behae sal hê. Die begeerte van Sy hart vir ons, Sy kosbare kinders, is in die Skrif verskuil. Namate ons vir die kosbaarhede van waarheid soek, word hulle deur die Heilige Gees aan ons openbaar.
Byvoorbeeld, wanneer Christus in ons kom woon, word ons liggame Sy lewende tempels. Jesus het ons Sy spesiale mag om heilige lewens te lei, beloof. (Romeine 12:1, 2) As Sy kinders het ons dit geërf.
Ons kan ook effektiewe getuienisse vir Hom wees. Wanneer Hy ons lewens rig, is ons gevul met liefde vir die verlorenes. Wanneer ons die waarheid met hulle deel, praat Hy deur ons.
‘n Woord van waarskuwing - WERKE:
Ons moet versigtig wees om nie na Bybelstudie, gebed en getuienis-lewering te kyk as werke wat ons posisie in Christus bevestig nie.
Om die waarheid te sê, dit is presies die teenoorgestelde. Die werke wat ons in die naam van die Here doen is die resultaat van ons lewe in Christus, ‘n bewys van ‘n lewe wat oorgegee is aan die oomblik-vir-oomblik vervulling met die Gees.
4) Lewe in die Geloof
Laastens, as ons in die Gees wil wandel, moet ons in die geloof lewe. Dit is jammer om die pyn van sommige opregte Christene te sien wat deur ‘n misplaasde klem op emosies mislei is. Wanneer onrealistiese verwagtings deur eie vereistes ten opsigte van bewyse vir die Gees gestel word, kan daar niks anders as teleurstelling wag nie. Prys die Here! Ons leef nie op wisselende gevoelens nie, maar in die geloof in Sy onveranderlike Woord.
Sy Woord swyg ook nie oor die saak van geloof nie. (Hebreers 11:6) vertel ons dat dit onmoontlik is om Hom sonder geloof te behaag. (Galasiers 3:11) herinner ons daaraan dat die regverdige in die geloof sal lewe...
Geloof vereis om te glo wanneer dit nie maklik is nie. Maar God het ons ‘n lewenslyn gegee om aan vas te hou wanneer dinge rof gaan. (Romeine 8:28) belowe ons: “alle dinge. . . werk ten goede mee vir hulle wat God liefhet en die wie volgens Sy besluit geroep is”.
Sê: “Dankie, Here”
Dit is nie maklik om “Dankie, Here” te sê wanneer jou hart stukkend is nie, maar dis ‘n waardevolle toevoeging tot die Christelike wandel.
Die skrywer Joseph Bayly, wat drie seuns oor ‘n tydperk aan die dood afgestaan het, het gesê dat God nooit nader aan hom was as wanneer hy en sy vrou van’n nuwe graf af weggestap het nie.
Lofprysing en danksegging is geskenke wat ons vertroue in God, te midde van oorweldigende omstandighede, uitdruk:
- Het jy al ‘n geliefde aan die dood afgestaan?
- Lyk dit of siekte en pyn jou liggaam oorheers?
- Is jy al seergemaak wanneer jy dit nie verdien nie?
- Het jy al finansiële terugslae ondervind?
- Het jy al ooit probeer om God daarvoor te dank?
- Veral as dit nie sin maak nie?
- Het jy Hom vertel dat jy Hom volkome vertrou al sou die lewe op jou insak?
As ons God en Sy beloftes glo wanneer dinge rondom ons uitmekaar val, gee ons erkenning aan Sy Heerskappy en gehoorsaam ons Sy opdrag om Hom te vertrou al sou ons nie die einde in sig hê nie.
In (1 Tessalosisense 5:18) lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Jesus Christus van julle verwag.”
Hy belowe belonings as ons Hom vertrou. Hy sê “al hierdie dinge” sal ten goede meewerk en Hy staan by Sy Woord.
Dit wil lyk of slegs ‘n dwaas onder sulke omstandighede dankbaar kan wees, maar as ons God se Woord as waarheid aanvaar, dan moet ons ons wil uitoefen en dankbaar wees (dankie sê) al sou daar geen rede tot dankbaarheid wees nie. Oor die jare heen het Christene regoor die wêreld soete en waardevolle lesse geleer deur bloot gehoorsaam aan God se Woord te wees, en deur dankie te sê toe hulle die minste daarna gevoel het.
Om op te som
‘n Christen sal oomblik-vir-oomblik in die Gees wil wandel omdat God ons so beveel het.
Dit is die enigste manier om Christus op die troon, en in beheer van ons lewens, te hou.
Namate ek kleiner word en Christus groter (Galasiers 2:20) sal die resultaat ongelooflike groei en ‘n oorvloedige lewe in Christus wees.
Indien jy materiaal benodig om jou te help GROEI
as Christen, kontak ons by:
- E-pos: hope@hope365.co.za
- Webblad: www.hope365.co.za
- Faks: SA Alleen: 086 535 2227
Hierdie is ‘n verwerking van die Oordraagbare begrip #4 ‘Hoe om in die Gees te Wandel‘ soos geskryf deur Dr. Bill Bright.
© Campus Crusade for Christ. Alle Regte Voorbehou.
In order to maintain the quality and protect the contents from changes, neither this Home Page nor parts thereof (including mirror sites) may be reproduced in any form without written permission from the publisher, NewLife Publications, P.O. Box 593684, Orlando, FL 32859.
However, printed copies may be made for the purpose of sharing this message with others in order to witness for Christ.



