OB #3 Hoe om met die Gees Vervul te Wees

Printer-friendly version

OORDRAAGBARE BEGRIP #3

HOE OM MET DIE GEES VERVUL TE WEES

Die eerste strale van die oggendson het deur die klein venstertjies van die boonste kamer gefilter en oor Petrus se bebaarde gesig gegly. Hy het sy oë oopgemaak en op een elmboog geleun. Meeste van die ander was reeds wakker en besig om hulle slaapmatte op te rol terwyl hulle gereedmaak vir nog ‘n dag. “Hoeveel langer nog Here?” het hy gewonder. Hulle wag nou al vir baie dae lank. Meer as ‘n honderd van hulle wag nou al vir baie lank in daardie klein kamertjie vir die Heilige Gees wat Jesus belowe het. . .

En toe hoor hy dit. Soos ‘n sterk windstorm, eers in die verte, en dan die brullende geluid van verwoestende, blasende winde reg by hulle in die kamer. Harder en harder word die geraas, en te midde daarvan daal daar vlammende tonge van vuur op elkeen in die kamer neer en vul hulle met die Heilige Gees!

Om te sê dat dit hulle lewens verander het, is ‘n eufemisme! Skielik begin hierdie manne en vroue om die Evangelie van Jesus Christus met ‘n nuwe selfvertroue te verkondig sodat elkeen wat dit aanhoor, selfs in sy eie taal, al het hulle dit nog nooit aangeleer nie, kon verstaan. Hulle het ‘n onuitblusbare krag wat binne in hulle gevloei het ontdek, want hulle was met die Bron van Krag self vervul. En as gevolg daarvan het duisende hulle begin volg na ‘n nuwe en lewensveranderende verhouding met die opgestane Here.

In die Boek van Handelinge lees ons van die Krag van die Heilige Gees soos dit in mense se lewens werk. Ons lees die stories en is verwonderd oor hoe gewone mense soos ek en jy wonderwerke doen en honderde mense na Christus lei. In jammerte skud ons net die kop, jammer dat ons nie in daardie tyd kon geleef en al daardie wonderlike dinge kon ervaar het nie. Ons het amper almal toegegee tot die meer “gesofistikeerde” gesindheid dat die Heilige Gees net op subtiele wyses met ons werk. Petrus en die ander moes wonderwerke verrig om die verlorenes met die evangelie te bereik. Vandag sê baie mense dat die idee van sulke “emosionele vertonings” nie meer nodig is nie.

Maar J. B. Phillips gee vir ons insig wanneer hy in sy inleiding tot “Letters to the Young Church” skryf: “The great difference between present-day Christians and those of which we read in these letters (the New Testament epistles) , is that to us it is primarily a performance; to them it was a real experience. We are apt to reduce the Christian religion to a code, or, at best, a rule of heart and life. To these men it is quite plainly the invasion of their lives by a new quality of life altogether. They do not hesitate to describe this as Christ living in them”.

En as Christus nog in sy volgelinge lewe soos Hy beloof het, moet ons lewens dan enigsins minder kragtig wees as die dissipels s’n? Vir enige Christen behoort die lewe ‘n avontuur te wees. Ons het doelgerigtheid en ons het die bron van krag wat nodig is om die take wat oor ons weg kom te volvoer. Jesus sê: “. . . Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat ek na dieVader gaan. Wat julle ookal in my Naam vra, sal ek doen. . .” (Joh. 14:12,13)

Maar dit word nie van ons verwag om hierdie dinge in ons eie krag te doen nie. Dit is Christus self wat in ons woon wat ons krag deur die Heilige Gees gee om groot werke te doen. Al ons wysheid en welsprekendheid, logika, persoonlikheid en goeie voorkoms kan nooit iemand omhaal om Christus te volg nie. Maar met Jesus se opgestane krag, sy hart, sy verstand, sy liefde vir die verlorenes wat deur ons vloei, wie kan hom dan teëstaan?

As ons nie die bewys van die krag van die Heilige Gees in ons lewens kan sien nie, behoort ons ‘n opname te maak en te kyk of ons nie dalk ‘n vleeslike Christelike lewe lei nie. Indien nie, is die rede vir die afwesigheid van die krag dalk ‘n gebrek aan geloof, of ’n gebrek aan kennis van wie God en sy Heilige Gees is.

Gebrek aan Kennis
Enkele jare gelede het ‘n Wes-Texas boer ‘n verstommende ontdekking gemaak. Daar word vertel dat vir Homer Yates, die einde van sy boerdery-aktiwiteite te gou aangebreek het. Terwyl hy sy stowwerige stewel so op die treeplank van sy afgeleefde bakkie plaas, kyk hy heen oor akkers van sy plaas wat hier en daar met dotjie-klompies van sy maer beeste bespikkel is. Hierdie vallei was sy vallei. Hy en sy familie het hierdie grond vir baie jare besit.

Hierdie bekende toneel het eens op ‘n tyd vrede in sy hart gebring. Dit het hom vertroos. Maar op hierdie bepaalde oomblik het dit trane in sy oë gebring. Hy het die plek immers lief. Hoe kon hy dit verlaat? Hoe kan daar van hom verwag word om sy goedjies te pak en weg te stap van die plaas waarvoor hy vir so baie jare soveel opgeoffer het? En tog, watter ander keuse het hy?

Dinge was goed totdat die depressie toegeslaan het. Dit het soos ‘n swerm sprinkane op hulle toegesak en hom finansieël kaal gestroop. Hy moes selfs ‘n regeringsubsidie gebruik om sy geliefde plaas net aan die gang te hou. Dit het hom verneder om hulp te vra – maar daar was geen ander uitweg nie. En hoe versigtig hy en sy vrou hulle karige kontantjies ookal uitgelê het, het hulle net nooit genoeg gehad nie. Hulle het “daarsonder” gegaan, het alles moontlik opgeoffer, maar totale ondergang was hulle voorland.

Ewe skielik sien hy in die verte ‘n vragmotor met ‘n klompie vreemdelinge daarop langs die gruispad aankom.. Hulle rammel ‘n paar treë van hom af tot stilstand. Die stof warrel om hulle soos hulle naderkom.

“Is jy Yates?” vra een van hulle. Hy knik sy kop. “Ons was op die uitkyk vir jou,” sê hy terwyl hy vir Yates met ‘n handdruk verras. Die langer een verduidelik dat hulle deel was van ‘n geologiese span van ‘n groot oliemaatskappy, en dat hulle rede het om te glo dat daar dalk olie op sy land kon wees. Sal hy hulle toestemming gee om ‘n proefgat heeltemal aan die anderkant van die randjie te boor?
Wat kon hy verloor? Hy teken die kontrak. Daardie middag, ‘n klein bietjie dieper as elfhonderd voet, tref hulle ‘n oliereserwe van 80 000 vate per dag. . . . nog voordat Yates mooi besef wat hom getref het. Verskeie van die olie-gate wat hulle geboor het, het tweekeer soveel olie gelewer. En Yates en sy gesin het alles besit!

Die nederige boer, wat op regeringsbystand net kop bo water gehou het, het oornag ‘n multi-miljoener geword. Hy het in armoede op dieselfde land gewoon wat hom skatryk gemaak het. Die olie reserwes was al die tyd daar – alles syne totdat hy die ooreenkoms geteken het. Maar hy het dit eers besit toe hy begin verstaan het watter rykdomme daar was en alles vir hom om net in besit te neem.

Hoe dikwels doen ons as Christene dieselfde. Ons lewe soos geestelike armlastiges , terwyl ons inderwaarheid kinders van die Koning is. Jesus beskryf die Christelike lewe as ‘n opwindende, oorvloedige avontuur, en vir eeue lank het baie gelowiges deur die hele wêreld gevind dat dit waar is.

Nog ‘n probleem wat ons beleef is dat ons bang is dat God ons sal uitbuit as ons onsself totaal aan Hom oorgee. Ons sien in 1 Joh. 4:18, ” Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie”. Ons kan God met ons lewens vertrou wanneer ons begin om sy liefde te aanvaar.

Kom ons veronderstel jy is ‘n ouer van ‘n klein seuntjie wat jy baie liefhet. Op ‘n warm somersdag staan hy op sy knietjies en sukkel om jou te vertel van iets wat vir hom baie belangrik is. “Ek is lief vir Pappa”, sê hy uiteindelik terwyl hy jou hand streel, “en van nou af gaan ek alles doen wat Pappa my sê om te doen.” Jy gaan ook af op jou knieë, neem sy skouertjies in jou hande en jy begin hom te skud vir ‘n vale. Jy kan sien hoe sy ogies vol trane word van vrees, en jy skreeu: “Ek het lank hiervoor gewag. Nou gaan ek dinge vir jou so ellendig moontlik maak. Geen plesier meer nie, ook geen speelgoed nie, net haatlike verskriklike huispligte vir so lank jy leef!”

Wat ‘n eienaardige reaksie van ‘n liefdevolle ouer! Ons sou verwag om teerheid en deernis teenoor die kind te sien, nie so ‘n tirade nie. En tog, so dikwels vrees ons dieselfde pynlike, strafgerigte reaksie van God as ons dit sou waag om ons aan Hom oor te gee. Aardse ouers sou hulle arms vir die kindjie oopmaak en hom na ‘n nog dieper plek van liefde innooi. Hulle sou hoop om sulke liefde van hulle kind waardig te wees.

Hoekom verwag ons dan enigiets minder van God wat ons vêr buite die grense van menslike liefde liefhet? Matt. 7:11 beskryf God as ‘n vader wat sy liefde vir sy kinders demonstreer. “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Hemelse Vader, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?”

Soos Jesus wat oor Jerusalem geween het, kyk God na ons en sê : “Hoe dikwels wou Ek julle in my arms toevou maar julle wou nie”. As ons effektiewe Christene wil wees moet ons – in geloof – begin om God te vertrou. Vanaf die tyd wat ons Sy vergifnis aanvaar het tot die tyd wat Hy saam met ons deur die dood wandel, word alles wat Hy ons gee deur die geloof ontvang.

Geestelike Asemhaling
In Oordraagbare Begrip # 2 het ons die beginsel van geestelike asemhaling bespreek en die ‘uitaseming’ as die belydenis van sonde en erkenning van Sy liefde en vergifnis in ons lewens begryp. Nou kom ons by “inaseming”.

Inaseming
Geestelike asemhaling sou sonder die proses van inaseming net so onvolledig wees as daarsonder in fisiese asemhaling. Wanneer verstopte asemhaling verhoed dat suurstof deur die kanale na die longe, brein en ander organe gaan, sterf die menslike liggaam. Behoorlike geestelike asemhaling is net so dramaties belangrik. Om geestelik “in te asem” is om diep te teug van die varsheid van die Heilige Gees, terwyl ons die volheid daarvan in geloof toe-eien. Dan gee ons Hom vrye teuels om ons lewens te beheer en te bekragtig.

Die Heilige Gees
Namate ons geestelike asemhaling gereeld beoefen, word dit naderhand ‘n gewoonte. Die gereelde ritmiese uitaseming (belydenis) en inaseming (toe-eiening van die nuwe krag in ons lewens) bring ‘n vars, onvergelykbare daaglikse benadering tot die lewe teweeg.

Maar as ons ons lewens aan Hom sou oorgee, moet ons begin deur die aard en persoon van die Heilige Gees te verstaan. Jy sal sien dat ek nie na Hom as “dit” verwys nie. Die Heilige Gees is net so ‘n persoon soos God Homself . Hy is nie een of ander eteriese invloed, of ‘n wit spookagtige geestelike konsep nie. Hy is God. Hy beskik oor al die eienskappe wat aan God die Vader toegeskryf word. As die derde persoon van die Drie-eenheid, is die Heilige Gees saam gelyk aan God die Vader en God die Seun. Daar is net een God , maar Hy manifesteer homself in drie persone.

Om die Drie-eenheid te definieer is menslik onmoontlik. ‘n Professor in Teologie het op ‘n keer gesê: “Die persoon wat die Drie-eenheid ontken, sal sy siel verloor. Die persoon wat die Drie-eenheid probeer verstaan sal sy verstand verloor.” Die eindige mens kan nooit heeltemal die oneindige God begryp nie.

Dit was die Heilige Gees wat mense geïnspireer het om die Bybel te skryf. Wanneer ons die Bybel lees, is Hy die een wat die waarheid aan ons openbaar en ons help om dit in ons lewens toe te pas. Hy veroorsaak dat ons gebede deur God verhoor word, en dit is Hy wat die ryk oes van ons getroue getuienisse inbring. Sy hoofdoel is om God groot te maak en Christus te verheerlik (Joh. 16:1-15)

Die bewys van die werking van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges is reg rondom ons. Hy het as die Vertrooster na ons gekom soos Jesus beloof het toe Hy voorberei het om hierdie aarde te verlaat. “. . . Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan,” het Jesus gesê, “ want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle stuur. . . . Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. . . en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” (Joh. 16:7,13,14) . Deur nuwe geboorte (wedergeboorte) maak die Heilige Gees dit moontlik dat ons Christus kan ken, en die goeie nuus met ander te deel.

In 1 Joh. 1:7 word ons vertel: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.” Wanneer ons met die gees vervul is, is ons onder sy beheer; nie soos ‘n robot nie, maar soos een wat deur die hart van God homself gelei en versterk word. Hy bewandel hierdie aarde in ons liggame terwyl Hy sy opgestane lewe in ons lewe.

Jesus sê aan die skare, “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei’”. (Joh. 7: 37,38) Johannes voeg by, “Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.” (Joh. 7:39) Ons kan ‘n lewe van oorwinning wat Jesus ons bied, deur die Gees versterk lewe, as ons ons harte vir die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees oopmaak. Die keuse is ons s’n.

Maar die vraag ontstaan: Hoe? Hoe ontvang ons die Gees in ons lewens? Wat moet ons doen, wat moet ons sê, sodat Hy sy intrek by ons sal neem? Sodat ons toegang tot sy wonderlike krag kan hê?

Veronderstel jy het ‘n bankrekening van etlike duisende Rand en jy moet ‘n tjek wissel. Sou jy by die bank instap, op jou knieë voor die kassier neerval en begin smeek en pleit vir die geld wat jy nodig het? Jy glimlag, want jy weet die verbaasde kassier sal waarskynlik oor die toonbank leun en jou herinner: “Jy hoef nie te smeek nie. Dit is reeds jou geld. Skryf net uit wat jy nodig het en ek sal jou tjek wissel.”

Die Heilige Gees is ons s’n vanaf die dag wanneer ons Christus se vergifnis vir ons sonde aanvaar. Om die Heilige Gees te ontvang, is ‘n geloofsdaad. “Julle is inderdaad uit genade gered deur geloof” sê die Bybel, “hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige reg om op homself trots te wees nie” (Ef. 2:8,9)

Ons het nie nodig om God vir sy guns te smeek of daaroor te kibbel nie. Om te vas, te ween en voor hom neer te buig, sal Hom nooit oorhaal om sy Gees in ons lewens te stuur nie. Ons kan nie God se volheid verdien nie. Dit is ons s’n slegs deur geloof en dit was so vanaf die oomblik toe ons Christene geword het. Kol. 2:6 herinner ons: “Aangesien julle dan Christus Jesus aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe”.

Die Heilige Gees is ons s’n. Wat ons nou moet doen, is om te leer hoe om sy krag toe te eien. Daar is verskeie faktore wat ons sal help om ons harte voor te berei as ons wil hê dat ons lewe met die Heilige gees vervul sal wees.

Ons moet honger wees vir die Gees en sy inwoning begeer.
Jesus sê: ”Geseënd is dié wat honger en dors na dit wat reg is, want hulle sal versadig word.”. (Matt. 5:6)

Ons moet gewillig wees om ons lewens aan Christus oor te gee.
In Rom. 12:1,2 skryf Paulus: “. . . Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Bely elke sonde.
Ons moet die Heilige Gees toelaat om ons bewus te maak van alle sondes en dit alles aan God bely. Ons het die belofte in 1 Joh. 1:9: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (En dit is heeltemal aanvaarbaar vir God om dit vir ons te doen, want Christus het gesterf om ons sondes weg te was) .

Met ons harte oop en voorbereid op die vulling van die Heilige Gees, word ons in Ef. 5:18 beveel “. . . moenie van wyn dronk word nie, want daarin lê losbandigheid, maar word met die Gees vervul.” Dit is ‘n bevel. Om nie vervul, beheer of versterk te word nie is dus ongehoorsaamheid. Die Skrif sê ook dat die volgende belofte vir ons waar is: “. . . dat ons met vrymoedigheid na God kan gaan omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy gebede verhoor as ons iets sò vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra”. (1 Joh. 5:14,15)

Daar is slegs een inwoning, een wedergeboorte en een doping van die Heilige Gees – en al hierdie dinge gebeur in die oomblik van redding. Daar is baie vervullings soos duidelik gemaak in Ef. 5:18. In die oorspronklike teks is die betekenis baie meer eksplisiet as in meeste moderne vertalings. Hierdie bevel beteken om as leefwyse “aanhoudend en voortdurend” gevul te wees, beheer en versterk deur die Heilige Gees.

Tegnies het ons nie eens nodig om te bid vir die vervulling met die Heilige Gees nie, want geen teks sê dit nie. Ons word deur geloof vervul. Maar, aangesien die voorwerp van ons geloof God en sy Woord is, kan ons as uitdrukking van ons geloof in God se bevel en sy belofte daarvoor bid. Ons word nie gevul omdat ons daarvoor bid nie, maar omdat ons op God vertrou. Hy reageer op ons geloof.,.

Is dit die behoefte van jou hart? Indien wel, bid dan die volgende gebed:

“Vader, ek is jammer dat ek my eie lewe regeer en as gevolg daarvan U bevel om deur die Gees beheer te word, nie gehoorsaam het nie. Dankie dat U my vergewe. Nou, Vader, nooi ek Jesus Christus uit om sy regmatige plek op die troon van my lewe in te neem. In geloof vra ek U om my met U Heilige Gees te vul soos U in U Woord beloof het. Dankie dat U U beloftes hou en dat U my nou met die Heilige Gees vul”.

As jy hierdie gebed gebid het of in jou hart iets soortgelyks teenoor God uitgedruk het, is jy nou met die Gees vervul. Jy hoef nie so te “voel” nie; aanvaar dit net as ‘n feit – in geloof. Jy kan nou, op hierdie oomblik, begin om uit die oneindige, onuitputbare bron van die Heilige Gees te tap. Hy wil jou in staat stel om ‘n heilige lewe te lei, en om die aansprake van Christus op ‘n nuwe manier met soekende harte te deel.

Dank God vir die volheid van sy Gees wanneer jy elke dag begin. Hou aan om Hom te nooi om jou lewe oomblik vir oomblik te beheer. Die Geesvervulde lewe is ‘n lewe van bonatuurlike krag, van in Christus bly en om geestelike vrug te dra.

Dit is om God, en nie die self nie, te vertrou om ‘n Christelike lewe te lei.
_____________________________

Indien jy materiaal benodig om jou te help GROEI
as Christen, kontak ons by:

• E-pos: hope@hope365.co.za
• Webblad: www.hope365.co.za Faks: (SA Alleen:) 086 6535 222741 6505

Hierdie is ‘n verwerking van die Oordraagbare begrip #3 ‘Hoe om deur die Gees Vervul te Wees‘ soos geskryf deur Dr. Bill Bright. © Campus Crusade for Christ. Alle Regte Voorbehou.

In order to maintain the quality and protect the contents from changes, neither this Home Page nor parts thereof (including mirror sites) may be reproduced in any form without written permission from the publisher, NewLife Publications, P.O. Box 593684, Orlando, FL 32859. However, printed copies may be made for the purpose of sharing this message with others in order to witness for Christ.