OB #2 Hoe om God se Liefde en Vergifnis te Ervaar
Printer-friendly version
OORDRAAGBARE BEGRIP #2
HOE OM GOD SE LIEFDE EN VERGIFNIS TE ERVAAR
Daar was lyne op die jong gesig wat by die trein se venster uitgestaar het. Lyne ingegrawe deur maande se herlewing van die verlede terwyl hy in die tronk was. Die groen wuiwende heuwels en die bekende weivelde het verby gespoed, totdat hy daar doer in die vêrte die drie torings van die graansuile in sy tuisdorp herken het. ‘n Knop van angstigheid het in sy keel gespring en afgegly tot in sy maag. Hy sal gou weet. Hulle was net ‘n paar kilometers van sy huismense se plek aan die buitewyke van die dorp.
Hy het die boek wat oop op sy skoot gelê het se buiteblad gestreel, asof hy iets van die werklikheid se oorblyfsels wou aanraak. Die hele ding het vir hom soos ‘n droom gevoel. Dit was asof die afgelope drie jaar in ’n waas omhul was. Hoe kon hy dit gedoen het? Die skande wat sy daad oor sy moeder en vader gebring het, was meer as wat van enigeen verwag kon word om te verduur. Hoe kon hulle hom ooit vergewe?
Die trein het intussen onverpoosd voortgerol, nader aan dit wat eens vir hom tuiste beteken het. . . voorheen. Toe hy vir hulle geskryf het, het hy geweet dat hy geen reg daartoe gehad het nie, maar hy het hulle tog gevra om ‘n teken te laat as hulle dit in hulle harte kon vind om hom te vergewe. As hulle net ‘n lint aan die tak van die eikeboom waar sy swaai al die jare gehang het sou vasbind. . . Hy wou hulle nog net eenkeer sien want hy was van plan om weg te gaan om hulle nog verdere pyn en smart te spaar. Hy sou in die volgende paar minute weet.
Sy handpalms was nat gesweet; sy mond was droog, en al wou hy hoe graag weet, kon hy homself net nie sovêr bring om by die venster uit te kyk nie. Wat sou hy doen as die lint nie daar is nie?
“Is alles reg, ou seun?” Die passasier langs hom kon nie help om die jong man se spanning waar te neem nie. “Is daar iets wat ek vir jou kan doen?”
“Ja, meneer, daar is,” sê hy. Net om die volgende draai is ‘n groot eikeboom en . . . wel, ek weet dit klink snaaks , maar sal u my asseblief sê of u daar iewers in die boom ‘n geel lint sien. . . ? Ek . . . ek kan net nie sovêr kom om self te kyk nie.”
Die man het geknik en toe die trein om die draai gaan, begin hy glimlag. “Is dit daar?” het die jong man angstig gevra. “Kan jy die lint sien?”
“Jy moet maar self kyk, ou seun, jy sal my nie glo as ek jou vertel nie.”
Die jong man het sy kop stadig gelig en in dankbare ongeloof gestaar. Die eikeboom was oorlaai met geel linte wat aan elke tak in die wind soos bloeisels gefladder het. En teen die heining het ‘n man en vrou vir die trein wat hulle geliefde seun gedra het, gewaai.
Kleurlose Christenskap
Daar is Christene wat, net soos hierdie jongman, in vrees en bewing lewe, terwyl hulle die glinster, die spesiale dinamiek wat hulle van die Christenlewe verwag, nooit beleef nie. Hulle glimlag nie. Hulle frons deurentyd. Hulle sukkel. Laste oorweldig hulle. “Waar is die vrede wat Jesus beloof het?” wonder hulle. Wat hulle werklk nodig het is ‘n nuwe perspektief op die vergifnis wat aan ons in Christus behoort.
Hierdie gelowiges is pynlik bewus daarvan dat iets in hulle lewens ontbreek. Hulle Christenskap reflekteer ‘n selftoegediende verveeldheid. Hierdie mense het nie nodig om deur welmenende Christenbroers en susters betig te word nie. Hulle het nie nodig om daarvan oortuig te word dat hulle lewens leeg en onvervuld is nie. Wat hulle wel nodig het, is om hulle eie geestelike bronne te tap – soos liefde, vrede, vergifnis – die verlore bestanddele wat redding in ‘n mens se alledaagse lewens kan bring. Dit is immers hulle geregverdigde erfenis wat aan elke gelowige behoort.
Soos die jongman wat die geel linte gesien het, moet hierdie verarmde gelowiges bloot verstaan hoe om uit te reik na dit wat aan hulle behoort en dit in besit te neem. Dan ontdek hulle dat die geheim om vergifnis te ken en te ervaar daarin lê om met God se gees vervul te wees.
Maar wat moet ons aan Christene wie se lewens vaal en kleurloos is, sê? Wat sou die geval wees as jy sukkel om die liefde wat jou as gelowige ontwyk te vind? Sou dit enigsins vir ‘n ander Christen moontlik wees om diepgewortelde waarhede duidelik genoeg vir jou aan te bied sodat jy dit in jou eie lewe kan aanvaar en toepas?
Kan een gelowige vir ‘n ander een leer hoe om Christus se onbeperkte vergifnis vir homself te ervaar? Die antwoord is “ja”. Deur ons wandel met Christus, vind ons herhaaldelik hoe ons lonende voordele ervaar wanneer ons hierdie praktyk beoefen.
Drie Tipes van Mense
Paulus hanteer hierdie selfde onderwerp in 1 Kor. 2 en 3. Hy verduidelik hoekom sommige gelowiges nie die vreugde en die krag van die Heilige Gees in hulle lewens ervaar nie wanneer hy oor die natuurlike mens, die geestlike mens en die vleeslike mens skryf.
A) Die Natuurlike Mens is die een wat op sy eie krag staatmaak. Hierdie persoon sê: “Ek sal dit op my manier doen.” Hy is nie ‘n Christen nie en daarom kan hy nie die Waarheid van God se Woord begryp nie. Hy is selfonderhoudend. Sy belangstellings en ambisies is wêrelds en selfgesentreerd. Alhoewel dit mag lyk of hy in beheer van sy sake is, is hy geestelik dood – ons enigste geboortereg totdat ons Jesus Christus in ons lewens innooi.
SELFBEHEERDE (NATUURLIKE) LEWE
B) Die Geestelike Mens is die een wat wedergebore is. Hierdie persoon sê, “ Ek kan dit nie op my eie doen nie. Ek erken dat ek God nodig het.” Hy is vervul met en word gelei deur die Heilige Gees, wat dit vir hom moontlik maak om die waarhede van God se woord te verstaan. Die geestelike mens is lewendig! Hy het ‘n lewenskragtige verhouding met die Here. En omdat hy ‘n kanaal van die Heilige Gees se krag is, dra hy voortdurend vrugte.
C) Vleeslike Mens
Die hoofonderwerp van hierdie artikel handel oor die Vleeslike Mens.
Alhoewel hy wedergebore is, het hy nog nie die ryk erfenis van sy hemelse Vader begin gebruik nie. In plaas daarvan gaan hy voort om soos ‘n verdoemde mens te lewe. Hy lyk dikwels asof alles wel is. Hy mag selfs sondagskoollesse gee, of dalk ‘n predikant in die kerk wees, of selfs groot dele van sy lewe daaraan wy om in een of ander verafgeleë sendingveld ander na die Here te lei. . . maar dis alles net ‘n dekmantel.
Die werklikheid is dat die vleeslike mens ‘n verslane mens is. As hy eerlik is, sal hy toegee dat sy Christenskap mank gaan aan werklike vreugde. Hy is voortdurend gefrustreer en in desperaatheid probeer hy grootmoediglik om ‘n lewe wat die Here behaag, te leef maar in plaas daarvan dat hy uit die bron van die Heilige Gees put, maak hy eerder staat op sy eie vermoëns en kreatiwiteit vir die krag wat hy nodig het, en dan ondervind hy probleme.
Nog meer dinge word deur die vleeslike mens se lewe gereflekteer. Hy mag dalk probeer om stewig vas te klou aan God, maar gelyktydig weier om sy greep op die materiële en aardse dinge te laat vaar. Hy bevind dat hy deur sy besittings vasgevang is. En dan skakel hy ook nog op geestelike sake in. Jesus het self gesê dat geen mens twee here kan dien nie. Alhoewel die vleeslike mens opreg probeer om God te behaag, skop hy net geestelike stof op. Rom. 8:7 verduidelik hoekom:
“Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie.”
Die tragiese is dat hierdie persoon die Heilige Gees nooit toelaat om hom te slyp en na die beeld van die persoon wat God wil hê hy moet wees, te hervorm nie. Paulus sê in Rom. 5:1,2 dat ons ‘kan wees wie God ons wil hê om te wees’:
“God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem.”
Oneindige vryheid is in hierdie waarheid toegewikkel. Dit is ons geloof in God wat Hom vreugde verskaf en ten spyte van ons dappere probeerslae of ons innige opregtheid, is dit nooit ons pogings nie.
Ons enigste hoop op oorwining oor hierdie vleeslike neigings is om God te vertrou om sy verrese (opgestane) lewe in en deur ons te lewe. Sy vergifnis word ons s’n wanneer ons sy kinders word. Ons moet dit bloot aanvaar – ‘n beginsel wat die vleeslike mens net nie begryp nie.
Die vleeslike mens mag nie uit eie keuse aan sy eie krag probeer vaskleef nie. Dis moontlik dat hy aan ‘n gebrek van akkurate inligting ly, of hy mag dalk verward wees oor wie God werklik is, en wat Hy in ons lewens kan doen.
DIE SELFBEHEERDE (VLEESLIKE) LEWE
Dink bietjie na oor hierdie storie van die arm immigrant wat op ‘n keer ‘n kaartjie gekoop het om per boot na die Verenigde State te verhuis. Hy het net genoeg geld oorgehou om ‘n paar beskuitjies en ‘n klein blokkie kaas te koop. Hy het dit versigtig opgedeel om hom vir die eerste paar dae van die reis te hou. Maar sy honger het toegeneem. Hy het toegekyk hoe die kelners dis na dis met heerlike vrugte en groente en ook vet hoenders en sappige biefstukke na ander passasiers verbydra. Eindelik kon hy die aroma van die heerlike kos nie meer weerstaan nie en keer hy een van die kelners voor:
“Asseblief,” smeek hy die verbaasde man, “Ek is swak van die honger. Ek sal enigiets doen net om ‘n eetmaal te verdien - kamers skoonmaak, dek afwas, skottelgoed was . . .”
“Is jy ‘n verstekeling?” vra die kelner. Die man skud sy kop. “Nou hoekom het jy dan nie gaan eet nie? Die prys van jou kaartjie sluit al jou maaltye in. Dis al klaar betaal. Jy moet net gaan aansit en eet!”
Leef ons dalk soos geestelike verstekelinge terwyl al die voordele van ‘n eersteklas passaat ons s’n is om op te eis?
Hoe tragies om onsself tot ‘n lewe van Christelike kaas-en-beskuitjies te verdoem terwyl Jesus ons nooi om saam met Hom by die eregaste se tafel te kom “aansit en eet.”
Dit is moontlik dat jy in God glo en Hom jou lewe gegee het, maar nogtans leef jy asof Hy nie bestaan nie. Vra jy Hom om sy leiding, maar dan beweeg jy self voort asof Hy oor niks in jou lewe omgee nie? Is jy gereed om ‘n verandering te maak en te begin put uit die ongelooflike krag van die Heilige Gees? Hy nooi jou uit om NOU by daardie keerpunt te kom.
Al wat nodig is, is geloof
Om God te vertrou om dit te wees waarop Hy aanspraak maak om te wees. Jesus het gesê dat ons selfs groter dinge as Hy sal doen as ons glo dat Hy bedoel wat Hy sê. (Joh. 14:12) Wat ons ookal in sy naam vra, sal Hy doen, sê Hy. (Joh. 14:14) Jy hoef nie ‘n verslane, vleeslike, skuldbelaaide lewe te lei nie. Jy het ‘n keuse.
Ons liefdevolle Heer en Meester beveel ons om weg te kom van ons vleeslikheid en die vrugbare getuie te word waartoe Hy ons in Joh. 15:16 roep. Die beste deel is dat Hy beide die krag en die begeerte het om ons by die punt van ware liefde en vergifnis te bring.
En daarom, so swak as wat ons geloof ookal mag wees, begin ons deur dit in ‘n betroubare God te plaas. Dit is die eerste stap in die groeiproses. Soos ‘n spier moet geloof geoefen word om sterk en bruikbaar te wees.
Geloof Groei
Ons is soos die man wat in die winterkoue oor ‘n groot verysde meer loop. Eerstens vrees hy dat sy volgende tree hom binne in die swart bevrore waters net onder die oppervlak sal laat beland. Maar elke tree wat hy vorentoe gee, bevestig en vergroot sy vertroue dat die ys sy gewig sal hou. Wanneer ons ons vertroue in God plaas, sal die resultaat altyd ‘n sterker geloof wees, want hoe beter ons Hom leer ken, hoe meer weet ons dat Hy ons vertroue verdien.
Kortsluiting van God se Krag
Ander dinge, oënskynlik nie belangrik nie, het ‘n verbasende effek op ons geloof soos dit toeneem in volwassenheid. Ek het een namiddag ‘n gedenkwaardige demonstrasie hiervan gehad terwyl ek met my klein seuntjie gespeel het. Dit was sy beurt om die enjin van sy modeltreintjie te kontroleer. Vir etlike minute het ons die wonderlike klein enjintjie se getjoek-tjoek om die denkbeeldige heuweltjies heen en deur die valleie, altyd op skedule, aanskou. Toe, eensklaps, het dit gestop. Hy het die skakelaartjie weer probeer maar niks het gebeur nie. Ek neem toe die klein enjintjie van die spore af, toets die verbindingspunte; wikkel ook die muurprop. Alles het reg gelyk maar die treintjie wou nie ry nie.
Toe sien my seun dat een van die sinjaalborde oor die spoortjies lê. Alhoewel nie baie groot nie het dit nogtans oor beide spore geval, en die negatiewe en positiewe strome verbind en ‘n kortsluiting veroorsaak.
Sonde
Sonde – selfs “onbelangrike sonde” kan dieselfde in die lewe van ‘n Christen veroorsaak. Dit kan egter nooit God se liefde vir ons beïnvloed nie. Dit verander nooit. God het ons met ‘n onuitputlike liefde lief.
Hy het ons lief, nie net “wanneer” of “indien” ons sy liefde verdien nie, maar selfs wanneer ons ongehoorsaam is. Een van die belangrikste ontdekkings in my studie van die Skrif is die stelling van ons Here in sy hoëpriesterlike gebed tot God die Vader soos opgeteken in Joh. 17: 23 “. . . . sodat die wêreld kan weet dat U my gestuur het en ek hulle liefhet net soos U my liefhet.”
Dink daaraan. God het vir jou en vir my net so lief as wat Hy die Here Jesus Christus, sy eniggebore Seun het. Ongelooflik! Maar waar! Alhoewel God sonde haat en toelaat dat Sy kinders swaarkry wanneer hulle ongehoorsaam is, hou Hy nooit op om hulle lief te hê nie.
“Want die Here tug hom wat Hy liefhet” (Heb. 12:6) . Om die waarheid te sê, Hy tug ons juis omdat Hy ons liefhet en nie omdat Hy ons haat nie. Hy haat net ons sonde.
As ons dus wil hê dat sy ononderbroke krag deur ons moet vloei, is dit ons verantwoordelikheid om enige bewuste sonde te bely en opnuut die wonder van God se vergifnis as gevolg van Jesus se dood in ons plek, te ervaar. Dit is net so nodig en natuurlik vir die normale Christelike lewe as asemhaling vir ons fisieke bestaan.
Om die waarheid te sê, dit is asemhaling – geestelike asemhaling. Ons asem uit deur ons belydenis voor God, terwyl ons die sonde in ons lewens uitdryf; ons asem in wanneer ons die Heilige Gees se volheid deur geloof toe-eien. Geestelike asemhaling is ‘n beginsel wat ons as gelowiges in staat stel om ‘n voortdurende Christelike lewe te lei. Dit is die “asem van die lewe”.
Geestelike Asemhaling
Kom ons gaan die beginsel van geestelike “uitaseming” soos hulle op die Christelike lewe van toepassing is, na. Ons sal die proses van geestelike “inaseming” in Oordraagbare Begrip # 3 bespreek. .
Ons lees in 1 Joh. 1:9: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid”. Die woord “bely” (in die Grieks, homologeo) beteken om met God aangaande ons sonde saam te stem.
Belydenis is ‘n drievoudige proses:
1) Erkenning van ons sonde.
Ons moet spesifiek wees oor ons sonde voor God, en met Hom saamstem dat wat ons gedoen het, verkeerd en pynlik in sy oë is.
2) Aanvaarding van sy vergifnis.
Ons moet ook met God saamstem dat Jesus se dood aan die kruis vir ons die vergifnis wat ons nodig het vir al ons sonde – verlede, hede en toekoms, betaal het. Ons moet die feit dat daar niks is wat ons kan byvoeg by dit wat Hy gedoen het nie, aanvaar.
3) Naberou.
Ons moet berou hê, en ons moet ons gesindheid teenoor sonde verander. Die Heilige Gees gee
ons die krag wat ons daartoe nodig het.
Wanneer ons sy krag aanvaar, sal ons optrede outomaties verander want ons sondige natuur is nie meer in beheer nie.
Die eie ek is magteloos onder die beheer van die Heilige Gees en ons is weer eens vry om te doen wat God wil hê ons moet doen.
Maak ‘n lys van elke sonde wat Hy in jou gedagtes bring. Gee Hom voldoende tyd om jou die areas in jou lewe wat verandering nodig het, uit te wys. Bepeins Ps. 32:1-6. Bid die Psalmdigter se gebed in Ps. 139:23,
“Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak.”
Wanneer jy klaar is met die lys, skryf skuins daaroor die onuitwisbare belofte van 1 Joh. 1:9.
“MAAR AS ONS ONS SONDES BELY –
HY IS GETROU EN REGVERDIG,
HY VERGEWE ONS ONS SONDES
EN REINIG ONS
VAN ALLE ONGEREGTIGHEID.”
Vernietig nou hierdie lys en dank God vir sy vergifnis en die reiniging deur sy Seun se kruisdood. Sy kosbare bloed is vir jou sondes gestort.
Terwyl jy die kanale vir God se krag om deur jou lewe te vloei oophou, sal jy liefde en vergifnis in jou Christelike wandel ondervind. Dit is die bestanddeel wat gewone manne en vroue in buitengewone dinamiese dissipels van Jesus Christus verander.
• E-pos: hope@hope365.co.za
• Faks: SA Alleen: 086 535 2227
Hierdie is ‘n verwerking van die Oordraagbare begrip #2 ‘Hoe om God se Liefde en Vergifnis te Ervaar‘ soos geskryf deur Dr. Bill Bright. © Campus Crusade for Christ. Alle Regte Voorbehou.
In order to maintain the quality and protect the contents from changes, neither this Home Page nor parts thereof (including mirror sites) may be reproduced in any form without written permission from the publisher, NewLife Publications, P.O. Box 593684, Orlando, FL 32859. However, printed copies may be made for the purpose of sharing this message with others in order to witness for Christ.



